Deur sr. Elri van Zyl

Elri van Zyl het in 2014 ʼn BCur  in verpleegkunde aan die Universiteit van Pretoria behaal. Tydens haar gemeenskapsdiensjaar werk sy in die mediese intensiewe sorgeenheid van die Steve Biko Akademiese Hospitaal waar sy ʼn toegewyde belangstelling in die versorging van wonde ontwikkel.

 Sy verwerf ook ʼn nagraadse diploma in Holistiese Wondbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat, en is tans besig met ʼn diploma in Christelike berading aan die Suid-Afrikaanse Teologiese Kweekskool.

 Elri is getroud met Fanie van Zyl, ʼn elektroniese ingenieur, en hulle woon in Pretoria. Die afgelope twee jaar staan sy aan die hoof van die Wondsorgkliniek by Wilgers Hospitaal.

 Elri skryf die volgende oor haar beroep:

As gekwalifiseerde suster hoor ek gereeld: “Ek sal nooit kan doen wat julle doen nie.” “Julle werk is ʼn roeping,” of selfs  “Julle is engele”.

Om met mense van verskillende rasse, geloof of kultuur te werk, kan soms ʼn uitdaging wees.

Soms voel dit soos ʼn roeping en soms voel ek soos ʼn engel as ek besef ek het iemand anders se lewe in my hande. Ander dae is dit ook net ʼn werk wat ek doen waar ek elke dag ʼn stukkie ekstra van God se genade moes leer om hierdie werk te kan doen. Die begin van ʼn lewe, die einde van een, al die trane, al die lag, familie en vriende van pasiënte is alles in my hande. Soms voel dit of ek op een dag tegelyk vertrooster, aanmoediger, verpleegster en sielkundige is.

Aan die begin van my studies in 2011 het ek soos enige 20-jarige meisie die grootste drome gekoester: ek wou die wêreld gaan verander en sou die beste verpleegsuster ooit wees. Ek het my graad in verpleegkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf en as jong gekwalifiseerde professionele verpleegkundige was ek opgewonde en reg om die wêreld aan te pak.

Min het ek geweet dat ek in daardie eerste jaar ná my studies nie juis veel vir my pasiënte sou beteken nie: hulle het eerder geweldig baie vir my beteken. Hulle het my uitkyk op die lewe verander, my passie vir mense verdiep en my opnuut laat besef hoe groot die genade is wat God vir ons elkeen het, ongeag die pad wat ons moet stap.

In die waakeenheid van ʼn groot akademiese hospitaal het ek baie geleer, baie gesien, baie gehuil, baie gelag en baie liefde ervaar. Daar het ek van wonde geleer: liggaamswonde wat gesond moet word, maar ook emosionele wonde wat dieper as liggaamswonde lê.

In 2016 het ek ʼn nagraadse diploma in wondsorg aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Dit het ʼn passie in my lewe geword. Dit is onbeskryflik om te sien hoe wonde binne ʼn paar weke of selfs dae gesond word. Die genesing van my pasiënte se wonde het dikwels ʼn groot emosionele uitwerking op my en my pasiënte. Soms laat vleeslike wonde ʼn sigbare letsel op die liggaam van my pasiënte, en soms laat geestelike wonde ʼn onsigbare letsel op hul gemoed.

Soms sien ek ʼn pasiënt net vir drie dae en soms ses maande aanmekaar. Ná elke konsultasie laat ek nie net ʼn indruk op hulle nie, hulle laat ook ʼn indruk op my. Om met my pasiënte te gesels, opgewonde te sien hoe hulle wonde genees en hul gesondheid verbeter, maak al die kere wat daar dalk trane of moedeloosheid was, die moeite werd.

Tans is ek besig met nog ʼn nagraadse diploma, dié keer in Berading aan die SATS (South African Theological Seminary). Verpleegkunde en wondsorg is my passie, maar die grootste wonde wat my pasiënte het, is nie uiterlik waarneembaar nie; dit moet egter nogtans genees word.

As iemand vir my sê verpleging is ʼn roeping, dan weet ek dis nie noodwendig ʼn roeping om medisyne aan te gee, bedpanne aan te dra of bloeddruk te neem nie, maar een waar ek self ook genesing by my pasiënte vind. Ons maak mekaar se wonde gesond deur saam te huil, saam te lag, hande vas te hou en oor die toekoms te droom, ongeag ons velkleur, geloof of lewensuitkyk.