Bloemfontein, die tuiste van die Universiteit van die Vrystaat, is die sesde grootste stad in Suid-Afrika. Die Mangaungmunisipaliteit beslaan sowat 6 300 km² en het ongeveer 850 000 inwoners. Hierdie gulhartige inwoners maak van die Vrystaatse hoofstad ’n spesiale plek. Bloemfontein is amptelik bekend as die juridiese hoofstad van Suid-Afrika, maar oor die jare heen is verskeie ander name aan die stad toegedig. Die algemeenste is seker die ‘sentrale stad’, gevolg deur ‘die Rosestad’, as gevolg van die massas roosbome wat deur die munisipaliteit en die inwoners geplant is. Die natuurlike argitektoniese en historiese erfenis eie aan Bloemfontein is verweef met ’n moderne, ontwikkelende stad.

Die trots van Mangaung is egter sy vriendelike en gasvrye mense. Die inwoners van Bloemfontein handhaaf nog ’n waardering vir gesinswaardes en hoë lewenskwaliteit. Dit vind neerslag in ’n vreedsame atmosfeer kenmerkend van die hartjie van die Vrystaat. Die Rosestad is ’n lewendige stad met die hart en rustigheid van ’n groot dorp, die ekonomiese, mediese sorg en opvoedkundige kern van ’n uitgestrekte binnelandse streek in Suid-Afrika.

Uitstekende hospitale word gekenmerk deur gesofistikeerde, kwaliteit- en persoonlike dienslewering wat ’n aangename ervaring waarborg. Hoë standaarde en uitmuntendheid het tot gevolg dat die Universitas-hospitaal as ’n opleidingsentrum en as navorsingsbasis vir die Fakulteit Gesondheidswetenskappe van die universiteit dien.

Vir studente wat graag die naglewe wil ondersoek, is daar, benewens ’n besige teaterlewe, ook volop klubs, restaurante, koffiekroeë en ander uithangplekke.

Vir die sport- en buitelug-entoesiaste is die onverbeterlike Hoëveldweer en die goeie sportgeriewe die stad se beste getuigskrif. Die Instituut vir Sportwetenskap bied uitstekende geriewe en tegniese ondersteuning vir sportspanne tydens hul voorbereiding vir sportbyeenkomste soos die Olimpiese Spele, Statebondspele, Wêreldkampioenskappe en Afrikaspele. Geriewe is onder andere ’n boksakademie, atletiekbaan, Olimpiese-grootte swembad, astro-hokkievelde, tennisbane en akkommodasie.

Volop verrassings wag op mense wat Bloemfontein nie ken nie. Van kuns en musiek, kultuur en geskiedenis, tot alle soorte sport – noem maar op, daar’s iets vir elkeen. Voorbeelde op die vermaaklikheidskalender is onder andere die Vrystaat Kunstefees en Macufe – beslis ’n kulturele smeltkroes waar alle kunsvorms die geleentheid gebied word om te floreer. Die Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum, Nasionale Museum en die Vrouemonument is prominente plekke vir opleiding, navorsing en ontspanning.

Diegene wat belangstel in astronomie, moet beslis die Boyden-sterrewag en die nuwe Naval Hill-planetarium besoek, wat gereeld inligtingsaande vir die publiek hou. Die nuwe Naval Hill-planetarium is die eerste digitale planetarium in Suid-Afrika.

Vir meer inligting oor die studie rigtings wat Die Universiteit van die Vrystaat bied, gaan na: Universiteit van die Vrystaat