Daar is ’n toekoms vir alle jongmense in Suid-Afrika

FLIP BUYS

UITVOERENDE HOOF VAN DIE SOLIDARITEIT BEWEGING

Daar is ’n groot toekoms vir alle opgeleide jongmense in Suid-Afrika, ongeag hulle velkleur. Die werkloosheidskoers onder jong witmense is onder 5%, by verre die laagste onder al die rassegroepe. Die rede hiervoor is die puik onderwys wat julle nog danksy die goeie skole kry. Daarom is dit beslis nie nodig om moedeloos oor die toekoms te wees nie. Te veel hoor mens jong witmense sê: “Wat help dit tog om te studeer, ek sal tog nie werk kry nie.” Dis sommer ’n simpel redenasie. Gewapen met ’n goeie kwalifikasie, is jou kanse baie beter om ’n goeie werk te kry. Maar sonder kwalifikasies is jou kanse bitter skraal om werk te kry, al is jou vel nou watter kleur ook al. Die harde werklikheid is dat ’n mens sonder goeie opleiding nie in diens geneem gaan word nie.

Suid-Afrika het ’n geweldige tekort aan opgeleide mense – van alle rasse. Hierdie tekort is só groot dat werkgewers dit as een van hulle heel grootste probleme beskou. Dis vir baie besighede so groot probleem dat hulle nie kan uitbrei of nuwe projekte begin nie. Daar is net nie genoeg opgeleide mense wat hulle kan aanstel nie! Die gevolg hiervan is dat die land se groeikoers ’n plafon bereik het. Ten spyte van die baie (swak opgeleide) werkloses, is daar sowat 500 000 oop poste in die ekonomie. Dit kan nie gevul word nie, want daar is nie genoeg opgeleide mense nie.

Onderwys- en opleidingstelsel.

Die rede hoekom daar nie genoeg opgeleide mense is nie, is dat soveel as 80% van die openbare skole in die land prakties nie in ’n werkende toestand is nie. Dit beteken dat daardie skole so swak is dat die meerderheid leerders wat daaruit kom, nie goed genoeg opgelei is om ’n werk te kan kry nie. Die meeste se onderwys was so swak dat hulle selfs moeilik verder opgelei kan word

Maar dis nie net sekere skole wat probleme het nie. Die naskoolse opleiding het net so ’n knou gekry as gevolg van swak regeringsbesluite wat die stelsel benadeel het. Dit is ’n skande dat veral swart jongmense so deur die staat in die steek gelaat word, en dit beteken dat die toekomspad oop is vir jongmense wat bereid is om op te offer en goeie opleiding te gaan soek.

Gesaghebbende tydskrifte soos die Britse Economist sê dat die histories Afrikaanse skole nog wêreldklas is. Volgens hierdie tydskrif het hulle steeds ’n prestasiekultuur, ondersteun deur dissipline en kinders wat hard werk. Dit gee die meerderheid Afrikaanse kinders ’n groot voorsprong as dit by werksoek kom – wat ’n mens in die statistieke kan sien. Volgens wêreldwye opnames is die Wiskunde-standaard in die oud-model C-skole 10de op die ranglys in die wêreld, en selfs beter as dié in lande soos Amerika, Australië en Nieu-Seeland! Wiskundestandaarde is gewoonlik ’n aanduiding van die algehele standaard van skole. Ons kan dus tereg sê ons skole is van wêreldklas gehalte.

Universiteite

Gelukkig is daar nog talle uitstekende universiteite in die land! Daarom wag daar ’n blink toekoms op jongmense wat ’n goeie kwalifikasie by ’n goeie universiteit kry, en bereid is om hard daarvoor te werk. Daar is ongelukkig hopeloos te min wit jongmense wat aan universiteite gaan studeer. Waar 70% van jongmense in Europa aan ’n universiteit studeer, doen minder as 30% wit jongmense in Suid-Afrika dit! Daarom bied Suid-Afrika sulke goeie geleenthede, en is die mededinging vir uitsoek-werksgeleenthede nie naastenby so sterk soos oorsee nie. Selfs staatsmaatskappye soos Eskom neem deesdae weer groot getalle wit jongmense in diens.

Kurkprop en grafgrawer

Jong gekwalifiseerdes moet net nie bang wees om onder te begin nie. Net ’n grafgrawer begin bo! Sorg dat jy tydens jou studies ondervinding begin opdoen, en begin onder op die leer as dit moet. Dit is moeilik om sonder ondervinding ’n goeie pos by ’n goeie werkgewer te kry, maar as jy jouself bewys kan jy soos ’n kurkprop boontoe skiet.

Mense praat vandag oor die krisis in swart opleiding, en aanvaar dat wit jongmense goeie opleiding kry. Maar dit is regtig kommerwekkend dat daar so min wit jongmense gaan studeer. Dit is onbegryplik hoe mense dink dat hulle in ’n ingewikkelde ekonomie sonder opleiding ’n goeie werk kan kry. Die statistieke sê dat ’n derde van wit jongmense die skool verlaat voordat hulle matriek geslaag het. Nog ’n derde kry matriek sonder universiteitstoelating. Die ergste is dat van die derde wat wel universiteit toe kan gaan, net minder as die helfte dit wel doen. Veral jong mans gaan studeer nie verder nie!

Natuurlik is dit so dat dit duur is, of dat mense ver van universiteite af bly, of dat jou ouers miskien nie studeer het nie en dat jy moontlik dink jy is nie daarvoor uitgeknip nie. Maar niks in die lewe wat die moeite werd is, kom verniet of maklik nie. Die meeste mense wat groot sukses in die lewe behaal het, het groot opofferings gemaak; dit het nie maklik gekom nie. Opleiding bly steeds die beste belegging wat jy in jou eie toekoms kan maak. Moet dus nie skaam wees om deeltyds te werk terwyl jy studeer, of deeltyds te studeer terwyl jy werk nie. En moenie ophou as jy klaar studeer het nie. As jy jou werk geniet, word die leer lekker! Maak jou gereed vir lewenslange leer, want kennis verouder deesdae blitsvinnig.

Moet ook nie net mik vir ’n goeie werk by ’n goeie werkgewer nie. Hoekom kan jy nie self eendag ’n goeie werkgewer word nie? Daar is baie rigtings wat dit vir jou moontlik gaan maak om self ’n besigheid te begin, as jy regtig wil. Jy hoef nie tien onderskeidings te hê om dit te kan wees nie. Ja, ’n mediese dokter kan sy eie praktyk hê, maar net so ook ’n haarkapper, ’n sweiser of ’n rekenmeester.

Tweede beste

Ons voorouers het ’n leidende rol gespeel om Suid-Afrika die voorste staat op die vasteland te maak. Dis nou ons beurt om iets te doen. Maar om sukses te behaal, moet jy nooit met die tweede beste tevrede wees nie. Veral nie van jouself nie! Jy studeer lankal nie meer vir ’n onderwyser of jou ouers nie. Jy werk aan jou eie toekoms. As jy nie die beste vir jouself gee en gun nie, gaan niemand anders dit doen nie. Pak daarom die bul by die horings, en moenie verskonings van jouself aanvaar nie, al is dit goeies soos armoede, moeilike huislike omstandighede of ander krisisse. Jy skuld dit aan jouself om die beste van jou talente en jou kanse in die lewe te maak. Daarom, gebruik jou talente, leer vir jou ’n kwalifikasie los, en vervul jou roeping: dan lê die toekoms vir jou oop – veral in Suid-Afrika!Miskien besef jy vandag vir die eerste keer dat min mense werklik bo begin! Hoe voel jy oor die feit dat jy nie ‘n grafgrawer gaan wees nie?